Somerset-Wes meestersatleet, Edna Brand, 72, beplan haar terugkeer na die atletiekbaan, ná sy vir drie maande in rehabilitasie was.
Somerset-Wes meestersatleet, Edna Brand, 72, beplan haar terugkeer na die atletiekbaan, ná ’n tydperk in rehabilitasie as gevolg van ’n besering verlede jaar opgedoen.
Sy het agtergekom iets is fisies fout net ná haar deelname aan die meestersatletiek kampioenskappe in Swede in Augustus verlede jaar. ’n Besoek aan haar ortopeed het haar vermoede bevestig en sy is met ’n kniebesering gediagnoseer.
“In Oktober was ek teater toe en ná ’n MR-skandering is daar groot skeur in my meniskus opgemerk, met ’n flap daarbinne, en ’n gewas wat gedreineer moes word en het toe sommer met stamsel behandeling begin,” het me Brand, ’n atleet van die Strand-Atletiekklub gesê.
Die besering het haar drie maande buite aksie gestel en sy keer nou eers weer stadig terug na haar oefenroetine.
“Ek het op Woensdag Januarie 15 weer heel onder begin, ek bou nog stadig op en is nog by die biokinetikus en werk hard om weer in vorm te kom,” het sy gesê.
Tans is haar fiksheid nog nie op standaard en sy werk hard om dit te verbeter. “Ek is uiteraard heeltemal onfiks, maar ek kan darem alweer 5km doen en die spoed sal nog kom, nou is dit klein oorwinnings op ’n slag.”
Sy het onlangs vir die eerste keer weer terugkeer met ’n 300m stap gevolg deur geleidelike 5km staproetes. “Klein oorwinnings is nou belangrik soos ek hard moet werk om weer fiks te word en my knie weer sterk te kry. Alhoewel ek nie self hierdie ompad sou gekies het nie, is daar wel ’n positiewe kant.
“Ek was weereens bewus gemaak van hoe baie mense vir my omgee en ondersteun, my familie, vriende, bure, naby en ver, baie dankie vir al julle liefde en ondersteuning.”
Sy gaan op Saterdag Februarie 15, haar eerste poging aanwend om weer op die baan in ritme te kom deur ’n 5 000m oefenlopie te voltooi.
Haar hoop is nou om vanjaar weer die WP Kampioenskappe in Maart aan te pak, gevolg deur die SA meesterskampioenskappe in Mei.
“Dan vertrou ek om reg en fiks te wees vir die Europese meesterskampioenskap in Portugal op die eiland Madeira in Oktober.”
Sy beplan om binnekort met fondsinsameling funksies af te skop om fondse vir hierdie doeleinde in te samel.
Volg haar pad na herstel op haar Facebook-blad.
Related Topics: